LAERSKOOL DELMAS 100 JAAR OUD 25/01/1910 - 25/01/2010
|
|---|
| GELUKWENSE!!! |
Hartlike groete aan Laerskool Delmas! Mens kan nie glo die skool is vanjaar ‘n 100 jaar oud nie. Hartlik geluk. Ek was in 1980 in Graad 7 en ‘n leerling by Laerskool Delmas. In daardie jare was Johan Taute skoolhoof en ander onderwysers, wie ek kan onthou is Johan Jacobs, Johan van der Berg, Cross Basson en sy eggenote, Mev Van der Walt, Jurg Smit. In daardie jare kon mens nog kaalvoet skool toe gegaan het en ‘n man het kakie klere met ‘n maroen baadjie gedra. My moeder het ook skool gehou by Laerskool Delmas en ons het sommige middae by die koshuis aangesit vir ete. Ek onthou die stampmielies en bekers yskoue melk. Ek onthou ook hoe koud wintersoggende was en hoe ons bibberend vroeg oggend vir die skoolbus gewag het. Ek onthou nie ‘n enkele les nie, dit is veels te lank gelede en daar was soveel lesse daarna, maar ek onthou wel die feit dat daar ‘n baie hoë standaard aan leerders gestel was en dat daar verwag is dat jy jou kant moes bring en onderprestasie was nooit geduld nie. Alhoewel dit 30 jaar gelede is, dink ek steeds gereeld aan die skool en die mense wie ‘n invloed op my lewe gehad het en sien ek dikwels in my geestesoog die siersteengeboue, die ryp wat op wintersoggende op die sportveld gelê het, die saal byeenkomste en die vlaghysings op Maandadoggende voor die skoolsaal. Ek onthou ook hoe die toue van die vlag somtyds baie styf vasgebind was en hoe mens somtyds nogal gesukkel het om dit suksesvol te ontplooi. ‘n Vroegoggend inspeksie voor die seremonie het goed gesorg dat die vlag nie “per ongeluk” vasgesit het nie. Geniet die feesvieringe en ek wens julle baie suksesvolle jare voerentoe. Vriendlike groete |
Hartlik Geluk Laerskool Delmas met jul 100ste verjaarsdag. Hoewel al die hoofe besondere groot mense was, wil ek graag Mnr Huyser uitsonder. Hy was hoof toe ek in Laerskool Delmas was. Hy het altyd net die hoogste Christelike waardes afgedwing op die personeel en leerders. Met goeie bestuur en konserwatiewe finansiele kontrole, het hy verseker dat Laerskool Delmas aangeprys was deur die hele land. Hy het nooit gehuiwer om self ‘n geldjie uit sy eie sak te gee aan ‘n kind wat ‘n uitstappie nie kon bekostig nie. Ek het dit goedgedink om hul foto te dokter (op Kilimanjaro) om te toon dat hulle die hoogste piek bereik het. Dawie & Personeel, Delmas Apteek. |
![]() |
Liewe Laerskool Delmas
Ontvang hiermee my gelukwense met die Eeufeesvieringe. Ek koester goue oomblikke van my laerskooldae.
Ek wens u 'n verder 100 geseënde jare toe.
Groete
Mariaan Immelman (Van Strijp)
1975-1981
|
Sjoe, ‘n hele eeu oud – kan dit wees? Wel dit voel soos ‘n eeu vandat ek my gepoleerde swart skoentjies vir die eerste keer as Graad 1 parabeen op Laerskool Delmas se speelgronde neer geplons het. Natuurlik was dit nie die eerste keer dat ek luidkeels op hierdie speelgronde rondgerits het nie, met ousus en ouboet wat al jare lank op skool was voordat ek met my haasbekkie die skoolbanke betree het. Ek onthou nog Juffrou Marie Jordaan, volgens my op daai stadium die beste tannie na gesnyde brood, alhoewel dit nog was voor ons gesnyde brood in die winkels gekry het. Pippie Langkous kompetisies waar Mamma staaldrade in my lange vlegsels in gevleg het en hulle kierts regop punt in die wind gestaan het terwyl ek smile vir ‘n kiekie met die tandlose mond. Ek onthou dit soos gister, wolf-wolf hoe laat is dit, toe val ek kerplaks neer op die harde sement stoep, met trane wat oor my wange rol, help die maatjies my op met ogies so groot soos pierings. Ek onthou die sop en broodjies wat uitgedeel was aan die koshuis kinders tydens pouse en die gimnastiek op die pale agter by die koshuise. Juffrou Anette en ‘n baie trotse onder-9 korfbal spannetjie. Juffrou Elize wat nou by Liewe Jesus is wat altyd die klavier so met ‘n liewe glimlag gespeel het wanneer die koor, ja ons het ‘n baie talentvolle en entoesiastiese koor gehad wat die wereld vol gesing het. Mnr. Taute en sy silwer grys hare wat dog kwaai, altyd ‘n glimlag of twee gehad het vir die klein mensies. Operettes en Revues wat by ons ore uitgekom het, wie onthou nog “Klonkie en sy donkie” en die “Vrugtemark”? Ek onthou die opgewondenheid wanneer ons gaan tennis speel het by ander skole, ons almal saam in Ma se wit en blou taxi. Hoe ek langafstande gehaat het met ‘n passie, ironies ne? Ek onthou, was dit die skool se 75ste verjaardag?, waar die hele skool met kerse op die atletiek baan gestaan het in formasie? Die redenaars kompetisies, die Eisteddfods, die sing van ons skool en volkslied. Ek onthou nog my aanknip gestreepte dassie, my skoolbaadjie wat nog in my kas hang by my Ma se huis, nog steeds in plek met al die balkies, Onderhoofmeisie, ACSV, die landsvlag en my Media Prefek balkie daaraan vasgespeld. Laerskool Delmas jou herinneringe is diep in my hart gebere, jou Maroon en ou goud nog steeds die mooiste kleure, want die trots wat dit bring bly mens altyd by. Veels geluk met jou eerste 100 jaar, ek weet die volgende 100 gaan net nog beter wees. Groetnis Jacky Grassman (Jacqueline Jonker) |
| Stuur jou gelukwense aan: info@delmasmall.co.za |
| index bladsy | www.delmasmall.co.za | terug na vorige bl |